Green en Volschenk se rekord maak Zim skrik
Zimbabwe het sake in die FNB driehoekige T20-reeks gelykop gemaak, ondanks die skrik wat Namibië hulle Maandag op die lyf gejaag het, toe die FNB Eagles net nog één groot hou nodig gehad het om hul tweede hoogste suksesvolle lopiejaagtog in dié formaat te bereik.
Die uitslag beteken dat die drie spanne – insluitend Suid-Afrika – ná die eerste rondte wedstryde elk op twee punte staan, met een oorwinning en een nederlaag elk.
Die kragmeting het in ’n stryd tussen wêreldrekordvennootskappe om die sewende paaltjie ontaard. Eers het Zimbabwe vanaf 101/6 ná 12 boulbeurte herstel om ’n totaal van 195 te haal, danksy ’n onoorwonne 94-vennootskap tussen Ryan Burl (57* van 32 balle) en Brad Evans (37* van 24 balle).
Dié twee het ’n nuwe rekord vir hul land opgestel en het waarskynlik gedink hulle het genoeg gedoen, toe hulle die vorige rekordvennootskap om die sewende paaltjie (Australië se Marcus Stoinis en Daniel Sams, 92 lopies teen Nieu-Seeland in 2021 in Dunedin) oortref het.
Hul poging is egter oortref deur Namibië se Zane Green en Alexander Volschenk, wat 110 lopies om die sewende paaltjie bygedra het en gedreig het om die gang van sake in ’n verrassende oorwinning om te keer.
Vandat Green en Volschenk op 76/ 6 byeen gekom het, het hulle na willekeur grenshoue geslaan. Hulle het Namibië tot op die drumpel van oorwinning gebring, met 16 lopies wat in die laaste boulbeurt benodig is.
Dramatiese 20ste boulbeurt
Evans was die aangewese bouler wat hulle moes stuit. Omdat Zimbabwe ekstra veldwerkers buite die binnekring gehad het, was sy eerste aflewering ’n foutbal, wat sy taak verder bemoeilik het.
Met die eerste wettige aflewering van die 20ste boulbeurt het Volschenk sy vyftigtal bereik. Teen daardie tyd het Green reeds 54 op die telbord gehad en hy wou die doodskoot toedien, maar in die jaagtog na ‘n tweede lopie is hy met ’n direkte trefgooi van Sikandar Raza uitgehardloop.
Volschenk het die verantwoordelikheid op hom geneem om die taak af te handel deur ’n hou van Evans reguit af veld toe vir vier lopies te slaan. Dit het beteken dat Namibië ses lopies van drie balle benodig het. Maar in ’n dramatiese wending is Volschenk agter die paaltjies deur ’n duikende Tadiwanashe Marumani met een hand uitgevang; Bernard Scholtz is aan die bouler se kant uitgehardloop omdat hy onseker was of hy ’n enkellopie moes neem; en Jack Brassell is met die laaste aflewering geboul, wat Zimbabwe ’n span-“driekuns” en ’n enorme sug van verligting besorg het.
• Dié week se skedule (begintye 14:00): Namibië tn Zimbabwe (Donderdag); Namibië tn Suid-Afrika (Vrydag); eindstryd Sondag.
Zimbabwe 195 vir 6 (Ben Curran 38, Ryan Burl 57*, Brad Evans 37*, Gerhard Erasmus 3/46).
Namibië 190 (Alexander Volschenk 56 van 29 balle, Zane Green 54 van 26 balle, Brad Evans 3/41, Brian Bennett 2/8).
Zimbabwe wen met vyf lopies.
Speler van die wedstryd: Brad Evans.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article