Gillmer (14) word topkolwer by hoogste o.19-week in RSA

Krieket
Die gewese Windhoek Affies-kolwer het vanjaar opnuut die boulaanvalle van die meeste opposisie aan flarde geslaan.
Andrew Poolman

In sy eerste jaar as ‘n hoërskoolseun beleef Gillmer Horn opnuut ‘n droomseisoen as kolwer – met sy insluiting in Hoër Jongenskool Paarl (ook bekend as Paarl Boishaai) se o.19 eerste krieketspan wat bloot weer een van die beginpunte van ‘n ongekende suksesstorie was.

Die gewese o.13 rugbylosskakel van Windhoek Afrikaanse Privaatskool en verlede jaar se Namibiese Cravenweekspan het vroeg vanjaar die skuif na die ikoniese Wes-Kaapse sportskool gemaak.

Sy kolfprestasies tot verlede jaar, wat selfs driehonderdtalle ingesluit het, het onomwonde bevestig dat sy kolftalent die Namibiese toneel ontgroei het.

Met die 2026-seisoen reeds verby die halfpadmerk, was sy kolfstatistiek opnuut verstommend.

Die mees onlangse opskudding wat hy verlede week veroorsaak het, was by die Wildeklawer Noord-Suid T20-krieketweek (8-11 Oktober) in Gauteng.

Nie alleen is vergeefs in die rekordboeke geskarrel om ‘n vorige geval op te spoor waar ‘n 14-jarige seun betrokke was in dié gesogte toernooi waar die noorde en suide van Suid-Afrika elk hul topagt krieketskole in die veld stoot nie.

Om die kroon te span, is die jongste seun boonop as die topkolwer in die toernooi bekroon. Niemand kon sy saamgestelde kolfsyfers in ses wedstryde ewenaar nie, wat soos volg geëindig het – 281 lopies van 218 balle; kolftempo 129 persent; 26 viere, 13 sesse.

Horn se Wildeklawer-toernooi het ‘n haastige honderdtal teen Affies van Pretoria (Suid-Afrika se nommer een gerekende krieketskool) ingesluit, vir wie hy met 110 lopies van 56 balle (11 viere, agt sesse) geteister het.

Boishaai het uiteindelik agtste in die toernooi geëindig, ná die wenner Hoërskool Waterkloof, Northwood School (tweede), Menlopark (derde), St. David’s Marist Inanda, Afrikaanse Hoër Seunskool (Pretoria) en St. Andrew’s (Bloemfontein; sewende).

 

Gevestig

Sedert sy debuut vir die Boishaai eerstespan is Horn nou voltyds in die skool se senior groep, met ander woorde, onttrek aan die o.14A-span waar hy die skooljaar begin het.

In sy eerste nege wedstryde vir die eerstespan was sy totale immers soos volg: 359 lopies van 281 balle (34 viere, 16 sesse; kolftempo 128%).

Met sy vroeër o.14-deelname ook bygereken, het hy vanjaar in totaal ‘n reusagtige 1 947 lopies van 1 407 balle in 31 wedstryde opgestapel (201 viere, 139 sesse; kolftempo 138%), met agt honderdtalle en ses vyftigtalle, vir die skool se spanne aangeteken.

Min mense wat enigsins van sy vermoëns kennis dra, was ook verbaas toe hy in September as kolwer van die toernooi by die Charl van Rooyen o.14-krieketweek aangewys is.

Vir dié toernooi, aangebied by Jeppe High School in Johannesburg, het Affies van Pretoria, Grey High School (Port Elizabeth), Waterkloof en Pretoria Boys High onder die opposisie getel. Teenstanders het egter swaar geleef teen sy kanonkolf (393 lopies van 260 balle; 43 viere, 18 sesse, kolftempo 151%), wat bygedra het dat hy sedert Februarie vanjaar van ‘n borgskap met die kolfvervaardiger Kookaburra verseker is.

Sy hoogste enkele kolfbeurt vir die seisoen was 167 (uitgetree) van 75 balle (20x4, 10x6) in ‘n o.14-wedstryd teen Parel Vallei.