Fouché blits haastige eerste 104* van T20-reeks
Die Central Sunrisers het hulself terug in die geselskap van die Nedbank Desert Ice T20-reeks geplaas met twee oorwinnings uit twee wedstryde die afgelope naweek.
Die veelsydige Shaun Fouché het Saterdag sy status as een van die mees waardevolle spelers op die plaaslike toneel gestand gedoen met ‘n honderdtal (die eerste van die huidige reeks) teen die Unam Zebras.
Gister het hy met nog ‘n onoorwonne 48 teen die Spur Warriors tot boaan die reeks se lys van voorste lopiemakers gesluif. Fouché is nou met 217 lopies (kolftempo 156.12) boaan die kolwerslys en het nog nie ‘n kolfgemiddeld nie, omdat hy in vier kolfbeurte nog nie uitgehaal is nie.
Hy het by Nicol Loftie-Eaton (187 lopies in drie kolfbeurte; gemiddeld 93.50; kolftempo 165.49) en Henry Hayes (153 in drie kolfbeurte; gemiddeld 76.50; kolftempo 263.79) verby geskuif, wie se span Green Mambas ‘n afnaweek gehad het.
Die voorlopers, die Mambas, se ontmoeting komende naweek teen die ander onoorwonne span, Gobabis Bulls, laat reeds die volgers van die reeks se mond water.
Die Sunrisers het nou tot derde van die agt spanne opgeskuif.
Wenpunte vir Tigers
CCD Tigers (134 vir ses in 19.3 bb) het twee waardevolle ligapunte bygevoeg met ‘n oorwinning van vier paaltjies teen die Spur Warriors (133 almal uit in 15.5 bb).
Die Spur Warriors se aanvangskolwer Jaco le Roux (58 van 31 balle; 5x4 5x6) het beperkte ondersteuning van sy kaptein Herman van Zyl (13 van 10 balle; 1x4 1x6) en Tiaan van der Westhuizen (23 van 13 balle; 3x6) gekry en die later aanslag van Sandra Tavares (13 van 9 balle; 1x4 1x6) is ook vroeg in die kiem gesmoor.
Geo Haasbroek (3/49 in 4 bb) se deurbrake vir die wenspan het die paaltjies van Le Roux, Tavares en Marc Stehle (2) ingesluit, terwyl hy ook vir Van der Westhuizen uitgevang het van die boulwerk van Simon Shikongo (1/22 in 3). Wetuthuiapi Tjilumbu (3/12 in 2.5 bb) het net 4.24 per boulbeurt afgestaan, terwyl Kundai Sibange (2/1 in 1 bb) ook die stertkolwers help opruim het.
CCD Tigers het vir André “Priester” Jansen (6) vroeg verloor toe Van der Westhuizen hom in die tweede boulbeurt uitgehardloop het. Dit was egter die begin van ‘n 79-vennootskap tussen Jaden Cloete (50 nie uit nie van 63 balle; 6x4) en die aanvallende Simon Shikongo (52 van 25 balle; 5x4 4x6).
Hoewel Spur Warriors ‘n paar vinnige paaltjies geneem het om die einde meer spannend te maak, het Joshuan Julius (14 van 10 balle; 1x4 1x6) ook bygedra om die Tigers binne trefafstand te bring.
Jurie Engelbrecht (2/27 in 4 bb) en Marcus Rabe 1/18 in 4 bb) was beide ekonomies en het elkeen 13 leë balle afgestuur.
Simon Shikongo is as speler van die wedstryd vereer.
Sunrisers kap terug
Die Central Sunrisers het ná ‘n wisselvallige wegspring in die reeks ‘n belangrike oorwinning met sewe paaltjies teen die Unam Zebras ingepalm.
Die Zebras is in 20.0 boulbeurte vir ‘n kompeterende 160 uitgeboul, maar die Sunrisers (164/3) het die wenteiken ná net 15.4 boulbeurte verbygesteek.
Die wenspan se Shaun Fouché is as speler van die wedstryd aangewys. As aanvangsbouler het hy met 1/26 in 4 bb en ‘n uithardloop sy kant gebring in tandem met Ruan Conradie (2/28 in 4), Henco van der Merwe (0/13 in 2 bb en ‘n uithardloop) en Chikonya Haipumbu (1/18 in 3).
Die Zebras se topkolwers was nommer drie Tonde Musakanda (41 van 32 balle; 5x4 1x6) en nommer ses Jignesh Panchal (34 van 19 balle; 5x4 1x6).
In die Sunrisers se lopiejaagtog het Shaun Fouché 104 nie uit nie van 47 balle gemoker, wat 12 viere en vyf sesse bevat het. Hy het sy vyftigtal ná 24 balle op die telbord geplaas, voordat hy die arme Ulrich Fortuin in die 16de boulbeurt met 6, 6, 4, 6 aangeval het om die wedstryd te beëindig.
Ruan Conradie (25* van 18 balle) het twee viere en twee sesse geslaan en was saam met Fouché om die doodskoot toe te dien.
In Zebras se boulaanval het Vernon Cloete (2/10 in 2 bb) kop en skouers uitgestaan, deur Dennis Shivangula (12) te boul en met die volgende bal vir Conrad Jacobs (0) te vang en boul.
Warriors smelt voor Sunrisers
Gisteroggend by die United-veld is die Spur Warriors vir ‘n beskeie 89 in 17.1 boulbeurte uitgeboul, waarna die Central Sunrisers (91/2) op ‘n drafstap met agt paaltjies gewen het.
Die verloorspan se aanvangskolwer Jaco le Roux is as speler van die wedstryd erken vir sy 40 van 32 balle (2x4 3x6), hoewel net twee spanmaats dubbelsyfers kon bydra.
Shaun Fouché (een boulbeurt, vyf leë balle, 1/1) was een van sewe Sunrisers-boulers wat almal in die paaltjies gedeel het. WP Myburgh (3/10 in 4 bb; 18 leë balle) was op sy stukke met sy draaiballe.
Fouché (48 nie uit nie van 27 balle) het vier viere en vier sesse vir die Sunrisers geslaan, terwyl die jong Tiaan van der Merwe (27 van 16 balle) hom met 3x4 2x6 laat geld het. Jaco le Roux (1/19 in 4 bb) was die room van die Spur Warriors-boulers.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article