FNB Eagles takel Oman en Skotland op tuisbodem
Die besoekende krieketspanne van Skotland en Oman takel mekaar vanoggend by die FNB Namibië Krieketstadion in die openingswedstryd van die driehoekige mini-toernooi in Windhoek wat deel van die ICC Wêreldbeker Liga Twee-reeks 2024-206 vorm.
Namibië se FNB Eagles-groep open hul aanslag Saterdagoggend by dieselfde veld teen Oman (09:30), voordat die gasheerspan en Skotland mekaar Maandagoggend vir die eerste keer takel.
Elkeen van die spanne het twee wedstryde teen elke opponent, wat beteken dat elkeen die kans het om potensieel agt ligapunte by te voeg op die algehele puntelys.
Skotland (tweede) en Oman (vierde) hou beide tans sterker posisies as die Namibiërs wat sesde geplaas is.
1 VSA 36 punte ná 24 wedstryde.
2 Skotland 30 punte ná 24 wedstryde.
3 Nederland 28 punte ná 24 wedstryde.
4 Oman 24 punte ná 20 wedstryde.
5 Kanada 21 punte ná 24 wedstryde.
6 Namibië 19 punte ná 24 wedstryde.
7 Nepal 12 punte ná 20 wedstryde.
8 Verenigde Arabiese Emirate 10 punte ná 20 wedstryde.
Onlangse rekords
Oman het reeds sy vermoë om sake vir Namibië deurmekaar te krap, bewys deur twee van die spanne se laaste vyf kragmetings te wen, insluitend die mees onlangse ontmoeting in Februarie 2025. Die Eagles is in Al Amerat vir net 96 lopies uitgeboul en het met agt paaltjies verloor.
Skotland sal ook selfvertroue uit sy onlangse skoon rekord teen Namibië as direkte opponent put. Uit die laaste vyf internasionale eendagwedstryde sedert Februarie 2023 het die Skotte vier gewen, terwyl een wedstryd heeltemal uitgereën het.
Opwarming in Windhoek
Sedert hul aankoms in Windhoek sou die Skotte ‘n opwarmwedstryd teen ‘n Namibiese elftal gespeel het, wat egter vanweë reënweer deur die mat geval het.
Oman het wel Dinsdag by die HP Ovaal sy kanse aangegryp om die Namibiese A-span met 78 lopies te verslaan. Die toerspan uit die Midde-Ooste het 245/8 in sy 50 boulbeurte opgestel, te danke aan 65 van Ashish Odedara en 40 van Pruthvikumar Macchi voordat Wasim Ali met 73 nie uit nie (67 balle) uitgeblink het.
William Lottering, Waldo Smith en Nicol Loftie-Eaton het elkeen twee paaltjies geneem.
Die Namibië A-span kon hierop net met 167 almal uit (44.3 bb) antwoord, danksy 30 lopies (38 balle; 1x6) van Zane Green en 36 (46 balle; 4x4 1x6) van Liam Basson, wat paaltjiewagter van laasjaar se nasionale o.19-span was en ook Dinsdag die handskoene gedra het.
Oman se Samay Shrivastava is as speler van die wedstryd aangewys (4/36 in 9.3 bb).
Leidende individue
Skotland spog met die nommer een lopiemaker in die algehele reeks. Hul aanvangskolwer George Munsey het reeds 1037 lopies in 17 kolfbeurte opgestapel (gemiddeld 64.81; kolftempo 105.81) met sy hoogste telling ‘n formidabele 191 teen Nederland in Dundee in Junie verlede jaar.
Namibië se linkerarm-draaibouler Bernard Scholtz is die voorste paaltjienemer in die reeks, met 44 slagoffers in 23 kolfbeurte en 215 boulbeurte.
Spelersgroepe
Namibië het twee weke gelede aangekondig dat Gerhard Erasmus ‘n blaaskans as kaptein van die FNB Eagles vir die komende driehoekige toernooi neem. Die ervare veelsydige speler JJ Smit, wat ook tevore onderkaptein asook waarnemende kaptein was, se bevordering stel Erasmus in staat om meer aandag aan sy kolf- en draaiboulwerk te gee.
Zacheo Janse van Vuuren (20) en William Lottering (22) is die twee debutante wat vir die eerste keer vir die senior Namibiese groep ingesluit is, terwyl Nicol Loftie-Eaton se naam nie uitgelees is nie.
Die spelersgroepe:
Skotland: Richie Berrington (kaptein), Matthew Cross (paaltjiewagter), Brad Currie, Jasper Davidson, Oliver Davidson, Jack Jarvis, Mackenzie Jones, Michael Leask, Christopher McBride, Finlay McCreath, Brandon McMullen, George Munsey, Safyaan Sharif, Mark Watt.
Oman: Jatinder Singh (kaptein), Vinayak Shukla (onderkaptein), Ashish Odedra, Pruthvi Machhi, Hammad Mirza, Mujibur Ali, Karan Sonavale, Mohammad Nadeem, Jiten Ramanandi, Shakeel Ahmad, Jay Odedra, Shah Faisal, Hassnain Ali Shah, Muhammed Imran, Samay Shrivastava.
Namibië FNB Eagles: JJ Smit (kaptein), Gerhard Erasmus (onderkaptein), Bernard Scholtz, WP Myburgh, Malan Kruger, Jan Frylinck, Ben Shikongo, Ruben Trumpelmann, Max Heingo, Jack Brassell, Zane Green (paaltjiewagter), Louren Steenkamp, Dylan Leicher, William Lottering, Zacheo Janse van Vuuren.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article