Drie honderdtalle voor premierliga se semifinaal

Klubkrieket
Nicol Loftie-Eaton se honderdtal vir CCD Tigers was in 'n verloorwedstryd, terwyl WP Myburgh en Malan Kruger ook die 100-merk verbygesteek het.
Tielman van Lill

Die laaste twee groepwedstryde van Krieket Namibië se 50-beurt premierligaseisoen is laas naweek in die hoofstad beslis waarin 1 039 lopies deur die vier spanne aangeteken is.

APS Wanderers eindig boaan die puntelys en dring deur tot die finaal komende Sondag (15 Maart), terwyl die vierde geplaaste CCD Tigers hom vir Sondag se bronsfinaal kan regmaak.

Spanne twee en drie, WHS Old Boys en Trustco United, sal komende Saterdag in die enkele halfeindstryd uitspeel om die ander finalis te bepaal.

 

SATERDAG, Old Boys klop Wanderers

ATG WHS Old Boys (281/5 in 50) klop APS Wanderers (261 almal uit in 47.5) met 20 lopies by Krieket Namibië se HP-ovaal in Olympia.

Malan Kruger van WHS Old Boys-krieketklub was uitstaande met 138 nie uit nie van 138 balle, met nege viere en drie sesse. As speler van die wedstryd was sy fokus egter nog nie afgehandel nie, want hy het hierna ook as paaltjiewagter diens gedoen.

Old Boys het die loot verloor en is ingestuur om eerste te kolf. Die verlies van Zacheo Janse van Vuuren (11), Shaun Fouché (0) en Louren Steenkamp (1) het die blou span op 38/3 op die rand van ‘n afgrond gelaat.

Kruger se vennootskap met Dylan Leicher (87 van 113 balle, 8x4, 1x6) het egter ‘n bepalende 171 lopies opgelewer voordat laasgenoemde op 209/4 ná 44.2 boulbeurte moes terugstap.

Vir Wanderers het JJ Smit in sy solo-vegtersbeurt 85 lopies aangeteken (79 balle, 4x4 6x6), maar kon nie sy span van ‘n nederlaag red nie.

Tiaan van der Merwe (2), Jan Frylinck (26) en Michau du Preez (7) se rolle met die kolf is grootliks beperk.

JC Balt se 33 lopies van 40 balle (1x4 2x6) is kortgeknip toe Dylan Leicher tot die boulaanval toegetree het, terwyl Waldo Smith (0), Nyasha Nyashadzaishe (15), Bernard Scholtz (5), Karl Birkenstock (21 nie uit nie van 43 balle), PD Blignaut (21 van 11 balle; 2x4 1x6) en Douglas Truter (5) ook nie vir Wanderers tot naby die eindstreep kon bring nie.

Old Boys se bouleenheid is gelei deur hul snelbouler-aanwins van Uganda, Juma Miyagi (3 paaltjies vir 40 lopies in 8.5 boulbeurte), wat vir Tiaan van der Merwe van sy eie boulwerk gevang en met sy latere terugkker ook van Blignaut en Truter ontslae geraak het.

Jack Brassell (2/51 in 9 bb), Adriaan Coetzee (2/39 in 5 bb), Dylan Leicher (2/46 in 7 bb) en Shaun Fouché (1/37 in 8 bb) het ook hul rolle as boulers vervul. Hoewel Ben Brassell (0/52 in 10 bb) se draaiballe redelike straf van veral Smit verduur het, was dit uiteindelik hy wat in die buiteveld die vangskoot raakgevat het om Smit kleedkamer toe te stuur.

Nyasha Nyashadzaishe (2/42 in 8 bb), JJ Smit (1/37 in 8 bb) en Bernard Scholtz (1/40 in 10 bb) was Wanderers se voorste boulers.

Altesaam 49 grenshoue is in die wedstryd geslaan (Old Boys 19x4, 5x6; Wanderers 13x4, 12x6).

 

SONDAG, United fnuik CCD

Trustco United (249/4 in 39.5 bb) klop CCD Tigers (248 in 48.2 bb almal uit) met sewe paaltjies.

Tigers het nog ‘n buitekans gehad om vir die semifinaal te kwalifiseer indien hy United sou klop en laasgenoemde vanweë ‘n beter netto kolftempo kon uitskakel.

Nicol Loftie-Eaton was uitmuntend met die kolf vir Tigers, nadat hy die loot gewen het. Sy 148 lopies het van net 130 aflewerings gevloei met 17 viere en vier sesse.

Die skoolseun Josue Cilliers het die langste saam met sy kaptein gekolf vir ‘n stewige 42 lopies (89 b, 4x4, 1x6). Die twee het op 9/2 bymekaar gekom nadat Ramon Wilmot (0) en Joshuan Julius (0) beide voor die snelboulwerk van Ruben Trumpelmann moes swig.

Ongelukkig vir Tigers kon Simon Shikongo (1), Donovan Zealand (3) Nicholas van der Colff (2), Junior Taanyanda (7), Mauritius Ngupita (19), Max Heingo (1) en Tangi Nuuyoma (1*) nie verder voortbou nie.

Vir United kon William Lottering (3/36 in 9 bb) met die paaltjie van Loftie-Eaton spog wat agter die paaltjies deur Zane Green gevang is. Ruben Trumpelmann (3/39 in 9.2 bb), WP Myburgh (2/63 in 20), Fortune Matawu (2/31 in 20 bb) het ook deurbrake gemaak.

In United se antwoord het WP Myburgh sy waarde as speler van die wedstryd gewys met ‘n puik honderdtal (111 nie uit nie van 112 balle; 15x4, 1x6). Hy is goed deur Gerhard Janse van Rensburg (67 van 61 b, 6x4, 2x6) met ‘n vyftigtal ondersteun, terwyl Erich von Molendorff (30 van 47 balle; 1x4 1x6) en kaptein Ruben Trumpelmann (30* van 18 balle; 3x4 2x6) ook gehelp het dat die wenlopies met betreklik min stres ná 39.5 boulbeurte aangeteken is.

Tigers se voorste boulers was Donovan Zealand (2/49 in 20 bb) en Simon Shikongo (1/31 in 2.5 bb).

‘n Totaal van 60 grenshoue is deur die twee spanne geslaan (Tigers 23x4, 6x6; United 25x4, 6x6).

[email protected]