Chevrons bal vuis met sege in reeks teen Eagles
Krieket
Zimbabwe het sy kolfkrag uitgestal toe hy Namibië met vyf paaltjies verslaan het in die tweede T20-internasionale wedstryd in Bulawayo om die reeksoorwinning met \'n 2-0 voorsprong te beklink, voor die derde wedstryd vandag.Zimbabwe (170/5) het die FNB Eagles se totaal van 169/9 met oortuiging oortref, gelei deur hul jong aanvangskolwer Brian Bennett wat 40 van 20 balle (6x4 1x6) gemoker en opnuut die vroeë pas aangegee het.
Saam met sy mede-aanvangskolwer Tadiwanashe Marumani het hulle ná vyf boulbeurte op 52 sonder verlies hoog gevlieg, met laasgenoemde wat hierna die aanvallende rol oorgeneem het (50 van 36 balle; 2x4 3x6).
Bydraes deur die ervare Brendan Taylor (29 van 26 balle; uitgehardloop met ‘n puik gooi deur Gerhard Erasmus) en Ryan Burl (24 nie uit van 13 balle; 3x4) het ook die Chevrons na \'n oorwinning help voer.
Die Eagles het desperaat probeer om hulself terug in die prentjie te bring (Zimbabwe van 115/1 tot 128/4 en 152/5), maar die Chevrons se middelorde het steeds die oorwinning verseker met die gemaklike verskil van 11 balle oor.
Brian Bennett is weer as speler van die wedstryd aangewys, net soos die vorige dag toe hy 94 lopies van 51 balle gemoker het vir sy hoogste telling in ‘n internasionale T20-wedstryd.
JJ Smit het 2/38 in 4 boulbeurte geneem, met die paaltjies van Marumani en Tony Munyonga (gevang deur Zane Green vir 10 van 7 balle).
Ruben Trumpelmann (1/37 in 4) is met drie viere en twee sesse bygekom, terwyl Jan-Izak de Villiers (0/21 in 3) ietwat beter gevaar het as Jack Brassell (0/13 in 1) of die draaiers Erasmus (0/11 in 1) en Nicol Loftie-Eaton (0/14 in 1.1 bb).
Vennootskappe verbreek
In Namibië se kolfbeurt van 169/6 (20 bb) het tydige deurbrake deur die Chevrons se boulers \'n groter totaal verhinder.
Malan Kruger met 45 van 44 balle (1x4, 3x6) het die nuwe bal getrotseer saam met Jan Frylinck (22 van 11 balle; 3x4), wat flink begin het totdat Richard Ngarava met ‘n streepbal sy wegpen raakgeboul het.
Die linkshandige nommer drie Nicol Loftie-Eaton het goed op dreef gekom (47 van 30 balle; 2x4 3x6) totdat hy met ‘n kaphou na derdeman uitgevang is, terwyl Gerhard Erasmus met ‘n uitmuntende vangskoot op die grenstou deur Bennett vir 37 lopies van 25 balle (3x4 2x6) teruggestuur is.
Richard Ngarava het 2/25 in 4 bb geneem en Brad Evans 2/25 in 3 boulbeurte. Die Zimbabwiese kaptein Sikandar Raza (1/35 in 4) het Kruger laat uitvang om die belowende 71-vennootskap met Loftie-Eaton te verbreek.
• In Maandag se eerste T20 het Zimbabwe 211/3 opgestapel en die Eagles tot 178/7 beperk.
Die groot toets
Namibië en gasheerland Zimbabwe berei hul voor op die komende ICC T20 Wêreldbeker 2026 kontinentale uitduntoernooi, waaruit twee van die agt spanne sal vorder om in Februarie en Maart volgende jaar die grotes in Indië en Sri Lanka te gaan aandurf.
Die Afrika-uitduntoernooi begin volgende week in Harare, met Zimbabwe gegroepeer saam met Uganda, Tanzanië en Botswana.
Namibië se wedstrydskedule is soos volg:
Vrydag 26 September, teen Kenia (oggendwedstryd 09:30).
Sondag 28 September, teen Nigerië (oggendwedstryd 09:30).
Dinsdag 20 September, teen Malawi (middagwedstryd 13:50).
Donderdag 2 Oktober: Semifinaal 1 en 2.
Saterdag 4 Oktober: Finaal.
• By die vorige T20 Wêreldbeker verlede jaar in Wes-Indië was Namibië en Uganda die kwalifiseerders, nadat Zimbabwe in Windhoek onverwags teen beide hierdie mededingers vasgeval het.
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article