CCD Tigers knak Wanderers in openingswedstryd
Die openingswedstryd van Krieket Namibië se 2026-2027 premierliga in eendagkrieket (50 boulbeurte) het Sondag vir CCD Tigers ‘n verrassend eensydige oorwinning teen verlede seisoen se verslane finalis APS Wanderers opgelewer.
Op hul tuisveld en in die afwesigheid van verskeie ervare staatmakers kon Wanderers net ‘n totaal van 119 almal uit in 36.3 boulbeurte opstel – ‘n teiken wat CCD in 29.4 boulbeurte verbygesteek het om met vier paaltjies te wen.
Die gewese Eagles-draaibouler Mauritius Ngupita was een van CCD Tigers se helde en is as die speler van die wedstryd aangewys vir sy boulvertoning van vier paaltjies vir 31 in 9.3 boulbeurte.
In samewerking met Salomon (Tangi) Nuuyoma (2/28 in 6 bb) en Wetuthuiapi Tjilumbu (2/10 in 4 bb), asook ‘n suinige boulskof deur Ned Webster (1/10 in 6 bb) en Simon Shikongo (1/28 in 7) het Ngupita-hulle verhinder dat Wanderers enige betekenisvolle kolfvennootskappe aan die gang kon kry.
Kolwer nommer agt Janco Jacobs (28 van 58 balle; 4x4) het die hoogste telling vir Wanderers aangeteken, nadat die drie topkolwers Adriaan Coetzee (11), die kaptein Tiaan van der Merwe (5) en Wessel Myburgh (8) almal van Ngupita se boulwerk uitgevang is.
Carlo Lacante (4), JP Blignaut (12), Riaan Minnie (13), Nyasha Nyashadzaishe (7) en Douglas Truter junior (2) kon ook nie daarin slaag om hulle vir beduidende kolftellings vir Wanderers in te grawe nie. Nommer tien Herschelle van Schalkwyk (13) het twee viere geslaan voordat hy Ngupita se vierde slagoffer geword het.
Met die nuwe bal het Janco de Jager twee deurbrake gemaak om van CCD se Ramon Wilmot (8) en Simon Shikongo (0) ontslae te raak, maar die ervare Nyashadzaishe kon net ‘n enkele bal afstuur voordat hy weens ‘n besering nie verder kon boul nie.
Vir CCD het Josue Celliers (35 van 53 balle; vyf viere) en sy kaptein Joshuan Julius (36 van 63 balle; ses viere) hul telling vanaf 19/2 tot 72/3 gevoer en hoewel hul vertrek die taak vir CCD Tigers effens bemoeilik het, het die volgende kolwers uiteindelik wel genoeg gedoen.
Nicholas van der Colff het twee sesse geslaan (16 van 21 balle), terwyl Ngupita 8 nie uit nie van 13 balle bygedra het om die oorwinning vir die oranje span te verseker.
Komende bepalings in die premierliga:
Saterdag 10 Oktober: ATG WHS Old Boys tn Trustco United (United-veld).
Saterdag 17 Oktober: CCD Tigers tn Trustco United (Uited-veld).
Saterdag 24 Oktober: APS Wanderers tn Trustco United (United-veld).
Sondag 25 Oktober: APS Wanderers tn ATG WHS Old Boys (Wanderers-veld).



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article