Capricorn Eagles kry swaar teen eerste vier opponente

Krieket
Andrew Poolman
Die Namibiese vrouekrieketspan, die Capricorn Eagles, het drie beskeie uitslae behaal in die vierhoekige T20-toernooi in Bangkok, Thailand.

Dié kompetisie was ‘n losmaker vir die Ontluikende Nasies T20-toernooi wat komende Donderdag afskop en waarin nóg vier nasionale spanne sal aansluit om die mededingers tot agt op te stoot.

Namibië het gister sy derde nederlaag op ‘n streep gely en sodoende vierde klaargemaak in die kompetisie wat deur die onoorwonne Skotland (drie gewen) oorheers is teen die gasheerspan Thailand (twee gewen), Papoea-Nieu-Guinee (een gewen) en die Eagles (nul gewen).

Vir die komende toernooi met agt spanne wat Donderdag begin, is Nederland, die Verenigde Arabiese Emirate, Tanzanië en Uganda die ekstra vier wat aansluit.

Op die huidige wêreldranglys is al hierdie ontluikende krieketnasies se vrouespanne tussen elfde en 19de geplaas.

Vier van die spanne – Namibië, Skotland, Nederland en Thailand – sal in Januarie-Februarie 2026 onder die laaste tien kandidate wees wat in Nepal sal meeding om vier plekke vir kwalifiseerders na die ICC T20 Wêreldbeker-vrouetoernooie (12 Junie tot 5 Julie 2026 in Engeland en Wallis).

Die Namibiese kaptein Sunè Wittmann en Yasmeen Khan is van die min kolwers wat reeds in Bangkok kolfbeurte van betekenis kon lewer, terwyl Wilka Mwatile en Sylvia Shihepo met drie paaltjies elk die toon aangee in die bouleenheid.

‘n Samevatting van die Eagles se wedstryde sover:



VRYDAG, teen Thailand

Thailand wen die loot, kies om eerste te kolf en stel 124 vir vyf op.

Die gasheerspan se paaltjiewagter Nannapat Khoncharoenkai het as nommer drie die kolfbeurt bymekaar gehou met 46 lopies van 43 balle (sewe viere).

Victoria Hamunyela het puik geboul (1/12 in 4 bb) en is goed deur Eveleen Kejaruka ondersteun (0/17), terwyl Sylvia Shihepo toegeslaan het met drie paaltjies vir 25 lopies in 3 boulbeurte.

In Namibië se kolfbeurt kon die span net met 85 almal uit in 18.3 boulbeurte antwoord en het dus met 39 lopies verloor.

Kayleen Green (0) is ná vyf balle uitgevang en hoewel Sunè Wittmann (30 van 34 balle; 5x4) en Yasmeen Khan (12 van 15 balle; 1x4 1x6) vir ‘n opflikkering gesorg het, kon niemand anders dubbelsyfers haal totdat Eveleen Kejarukua (10 van 13 balle) op nommer tien gaan kolf het nie.

Die hoogs gedissiplineerde Thailand-boulers het net vier ekstras (vier loslopies) afgestaan.



SATERDAG, teen PNG

Namibië kies om eerste te kolf, maar word vir net 74 almal uitgeboul en verloor met ses paaltjies teen Papoea-Nieu-Guinee.

Die aanvangspaar Mekelaye Mwatile (0) en Kayleen Green (0) is beide uit voordat die span ‘n lopie op die telbord gehad het en later is Bianca Manuel (0) en Arrasta Diergaardt (0) ook in die kiem gesmoor.

Op nommer drie en vier was dit weer eens Yasmeen Khan (23 van 29 balle; 4x4) en Sunè Wittmann (11 van 25 balle; 2x2) wat vergeefs momentum aan die kolfbeurt probeer verskaf het.

Paaltjiewagter Mezerly Gorases (11) en Sylvia Shihepo (13) het elkeen een grenshou geslaan, terwyl hul opposisie opnuut met vier ekstras suinig was (drie foutballe; een bylopie).

Wilka Mwatile het as aanvangsbouler hoop gegee met twee vroeë deurbrake (2/7 in 4 bb; 20 leë balle) en haar jonger suster Mekelaye Mwatile was ewe kompeterend met 0/8 in 4 bb (17 leë balle).

Uiteindelik het die Eagles egter nie naastenby genoeg lopies op die telbord geplaas om hulself ‘n wenkans te bied nie.



MAANDAG, teen Skotland

Die Eagles-kaptein Sunè Wittmann wen die loot en kies om eerste te kolf.

In die Namibiese totaal van 91/9 in 20 boulbeurte was Kayleen Green die voorste vegter met 42 lopies van 56 balle (drie sesse) wat eers in die laaste boulbeurt uitgehaal is. Ongelukkig kon niemand behalwe nommer ses Mezerly Gorases (12 van 29 balle; een vier) enigsins ‘n vennootskap met haar bou nie.

Skotland se Rachel Slater (3/11 in 4 bb) is as speler van die wedstryd aangewys en Priyanaz Chatterji (2/7 in 4 bb) het selfs minder as twee lopies per boulbeurt afgestaan. Met onderskeidelik 20 en 21 leë balle was beide ‘n hand vol om te hanteer.

Hoewel Eveleen Kejarukua (1/21 in 4 bb) vroeg toegeslaan het om die eerste van twee suksesvolle stonkkanse vir paaltjiewagter Mezerly Gorases te skep, het Skotland se volgende kolwers hulle nie van stryk laat bring nie om hul oorwinning met sewe paaltjies te verseker.



NAMIBIë se komende wedstrydbepalings

Donderdag, teen Tanzanië (middag).

Vrydag, teen Skotland (middag).

Saterdag: rusdag vir alle spanne.

Sondag: teen Uganda (middag).

Maandag: rusdag vir alle spanne.

25 November: teen die Emirate (oggend).

26 November: teen Nederland (oggend).

28 November: teen Papoea-Nieu-Guinee (oggend)

30 November: teen Thailand (middag).