Aussies wys waar T20 WB se vlak is

Krieket
Tielman Van Lill
Die eerstehandse ondervinding teen die gedugte Australiese krieketspan in Port of Spain kan Namibië handig in Groep B te pas kom voor hul T20-Wêreldbeker Maandag gaan afskop.

Die Richelieu Eagles (119 vir 9 in 20 boulbeurte) moes Woensdagaand teen Australië met sewe paaltjies in ‘n opwarmwedstryd die spit afbyt.

Australië (123/3), met nog net nege van sy spelersgroep en sonder ‘n paar latere IPL-aansluitings, het die wenteiken in net 10 boulbeurte behaal om Namibië met sewe paaltjies te klop.

By tye was Andrew McDonald (hoofafrigter), sy assistente Brad Hodge en André Borovec asook George Bailey (nasionale keurder) as veldwerkers op die veld. Borovec het selfs vir Niko Davin uitgevang.

Die Eagles-kolwers het moedig probeer. Davin (14) het drie grenshoue in een boulbeurt geslaan, maar Michael van Lingen (0), JP Kotzé (13, 1x4), Jan Frylinck (1), Gerhard Erasmus (15, 2x4), JJ Smit (1), Malan Kruger (18, 1x4, 1x6), David Wiese (12, 1x4) moes hul keer ken met die boulvernuf van Josh Hazlewood, Adam Zampa, Tim David en Nathan Ellis.

Zane Green (38 van 30 balle, 5x4) het ‘n uitstekende volwasse reddingsbeurt gespeel.

Hazlewood (2 paaltjies vir 5 lopies in 4 boulbeurte) het met drie opeenvolgende leë boulbeurte begin voor hy in sy laaste een vyf lopies afgestaan het. In sy laaste boulbeurt het Hazlewood van 'n reguit dryfhou met sy vingerpunte aan die bal geraak om Kruger as die Eagles-kolwer aan die bouler se kant uit te hardloop.

Zampa was giftig met 3/25, terwyl Ellis (1/17 in 4), David (1/39 in 4) en Ashton Agar (0/29 in 4) ook bouloefening gekry het.

Bernard Scholtz (2/16 in 2) het puik geboul om van Josh Inglis (5, 1x4, geboul) en Tim David (23, 1x4, 1x6, gevang Davin) ontslae te raak.

JJ Smit het die Aussie-kaptein Mitchell Marsh (18, 4x4) uitgehardloop.

David Warner wat ná die Wêreldbeker uittree, het met 54 nie uit nie van 21 balle (6x4, 3x6) totale beheer oor die situasie geneem.

Erasmus (0/9 in 1), Wiese (0/16 in 2), Ruben Trumpelmann (0/34 in 2), Lungameni (0/27 in 2) en Frylinck (0/11 in 1) is gestraf.

[email protected]