Aksiebelaaide Desert Ice op die spyskaart
Toeskouers kan dié naweek weer op vurige krieket in die Nedbank T20-kompetisie reken.
Die 2026 Nedbank Desert Ice T20 Challenge word môre en Sondag met vier kragmetings by Wanderers in Pionierspark voortgesit.
Die agt spanne wat om die T20-titel meeding, is die Crazy Monkey CCD Tigers, Windhoek Autohaus Central Sunrisers, Etungu Kudus, BDO Gobabis Bulls, Moola Betting Green Mambas, YouTrack Fleet Management Run Whisperers, Spur Steak Ranches Warriors en Supatronix Unam Zebras.
Die kompetisie is egter streng gesproke iets van die verlede vir die Spur Steak Ranches Warriors, Etungu Kudus en Supatronix Unam Zebras, wat onderskeidelik sesde, sewende en agtste op die puntelys geëindig het. Al drie spanne het reeds hul sewe ligawedstryde afgehandel en elk vier punte ingesamel.
Saterdag
Die Crazy Monkey CCD Tigers het môre om 09:00 ’n belangrike afspraak met die BDO Gobabis Bulls.
Die Bulls is tans tweede op die puntelys met agt punte en het nog twee wedstryde oor – teen die Tigers en die YouTrack Fleet Management Run Whisperers. Indien die Bulls albei wedstryde wen, sal hulle met 12 punte eindig en hul plek in die halfeindronde bespreek.
Die Tigers is ook op agt punte en beklee die derde plek. Dit is hul laaste ligawedstryd en laaste kans om twee punte by hul totaal te voeg. Indien hulle die Bulls kan klop, behoort hulle ’n sterk kans te hê om die halfeindronde te haal.
Om 14:00 pak die Run Whisperers en Windhoek Autohaus Central Sunrisers mekaar. Die Whisperers is vierde met ses punte, terwyl die Sunrisers vyfde is met vier. Die Whisperers het nog drie wedstryde oor en die Sunrisers twee.
Sondag
09:00: YouTrack Fleet Management Run Whisperers teen BDO Gobabis Bulls. Die Bulls sal alles in hul vermoë doen om hul laaste ligawedstryd met ’n oorwinning af te sluit.
14:00: Windhoek Autohaus Central Sunrisers teen Moola Betting Green Mambas. Die Mambas is, nes die Bulls, ’n gevaarlike span. Hulle is tans eerste met agt punte en het nog twee wedstryde oor, insluitend dié een.
Vertonings
Verskeie kolwers en boulers het reeds uitstekende individuele vertonings in die eerste 23 wedstryde gelewer.
Shaun Fouché van die Central Sunrisers se onoorwonne 104 lopies bly die hoogste individuele telling van die toernooi. Joss Zondagh van die Green Mambas spog met die beste boulsyfers van vier paaltjies vir net 13 lopies.
Die hoogste spantelling, 210/6, behoort aan die Green Mambas, terwyl die laagste telling, 42 almal uit, ongelukkig deur die Kudus aangeteken is.
Kolwers het altesaam 6 006 lopies in 23 wedstryde aangeteken, waarvan 3 324 uit grenshoue gekom het. Boulers het 303 paaltjies geneem uit die 5 002 balle wat afgestuur is.
Grenshoue
- Viere: 468 (1 872 lopies), gemiddeld 20,35 per wedstryd.
- Sesse: 242 (1 452 lopies), gemiddeld 10,52 per wedstryd.
Altesaam 23 vyftigtalle en eenhonderdtallen is aangeteken. Drie-en-vyftig kolwers is vir nulle uitgehaal, terwyl 152 vangskote benut is.
Suksesvolste lopievrate
- Nicol Loftie-Eaton (Green Mambas) – 264 lopies van 174 balle
- Shaun Fouché (Central Sunrisers) – 231 van 152
- Tonde Musakanda (Unam Zebras) – 226 van 184
- Henry Hayes (Green Mambas) – 153 van 64
- Simon Shikongo (CCD Tigers) – 150 van 91
Wie het die meeste paaltjies laat kantel?
- Kairavbir Singh Malhotra (Run Whisperers) – 10 paaltjies vir 88 lopies in 12 boulbeurte
- Johan Potgieter (CCD Tigers) – 9/52 in 11
- Jurie Engelbrecht (Warriors) – 9/105 in 15.2
- Ruan Conradie (Central Sunrisers) – 8/128 in 18.1
- Geo Haasbroek (CCD Tigers) – 8/124 in 13
Ranglyspunte van die topvyf spelers
- Nicol Loftie-Eaton (Green Mambas) – 504
- Shaun Fouché (Central Sunrisers) – 503
- Simon Shikongo (CCD Tigers) – 397
- Herman van Zyl (Warriors) – 386
- Junior Taanyanda (CCD Tigers) – 350
Puntelys
- Green Mambas (4 seges uit 5 wedstryde) – 8 punte
- Gobabis Bulls (4 uit 5) – 8
- CCD Tigers (4 uit 6) – 8
- Run Whisperers (3 uit 4) – 6
- Central Sunrisers (2 uit 5) – 4
- Warriors (2 uit 7) – 4
- Kudus (2 uit 7) – 4
- Unam Zebras (2 uit 7) – 4



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article