Uitklophou eis swaargewig Ndembo (27) se lewe

Boks
Die groot swaargewigbokser Ardi Ndembo, wat Kaapstad lank as basis gebruik het, is dood.

Hy het in Miami gesterf nadat hy op 5 April brutaal in die eerste ronde van sy geveg teen Nestor Santana uitgeslaan is.

Ndembo (27), ’n pa van twee kinders, was sedertdien in ’n geïnduseerde koma.

Die Kaapse boksgemeenskap is verstom en verslae oor die tragedie wat Ndembo getref het.

Dié Kongolese spiertier het Amerika binnegevaar met die hoop om gou ’n aanspraakmaker op die wêreldtitel te word. Hy het sy eerste agt gevegte in beroepskryt almal gewen waarvan sewe met uitklophoue.

Maar in sy eerste geveg in Amerika is sy lewe beëindig.

Ndembo het 10 minute roerloos in die kryt bly lê nadat hy uitgeslaan is. Hy is later met ’n draagbaar uit die kryt gedra.

Ndembo is in die Kaap deur Steve Kalakoda en Jeremy Bean onder hande geneem. Hy is in die Kaap voorberei vir ’n loopbaan in Amerika, waar daar gehoop is hy vorentoe ’n kans sou kry om vir ’n wêreldtitel te veg.

“Dit is bitter tragies. Baie, baie hartseer. Ardi moes nooit gesterf het nie. Die stelsel in Amerika het hom in die steek gelaat,” het Bean by navraag gesê.

“Dit het nou aan die lig gekom dat hy met ’n beseerde regtergewrig van sy vorige geveg in Mexiko in die kryt geklim het.

“Boonop is hy ’n week voor die noodlottige geveg vier keer in oefensessies uitgeslaan. Ardi was dus nie fiks en geskik om in die kryt te wees nie. Die stelsel wat in plek is om boksers te beskerm, het hom totaal en al in die steek gelaat.”

Bean voel beserings in oefensessies moet ernstiger opgeneem word.

“Sy twee dogtertjies se lewe is verpletter. Ek hoop dat hierdie tragedie ons sal dwing om deegliker te kyk na harsingskudding en boksers wat tydens oefensessies beseer raak. Ek besef die druk om te presteer is enorm, maar ons moet deeglik kennis neem van wat nou met Ardi gebeur het.”

Jeff Mayweather, oom van die voormalige wêreldkampioen Floyd Mayweather, wat die toernooi bygewoon het, sê almal word groot met die opwinding van boks, maar daar is altyd ’n risiko wat tragiese gevolge kan hê.

“Enige bokser kan sy lewe in die kryt verloor,” sê hy.

“En wanneer so iets gebeur, is die wêreld opnuut bewus van die gevare van boks.”

– Netwerk24