Nghutenanye te taai vir Filippyn
Fillemon Nghutenanye van Namibië het Saterdagaand sy geveg om die Wêreldboksorganisasie (WBO) se “globale” vlieggewigtitel teen Berland Robles van die Filippyne by die Windhoek Buiteklub gewen.
Hoewel die uitdager in die vroeë rondtes met tye goeie werk gelewer het, het Nghutenanye hom in die vierde ronde verskeie trefferhoue teen die kop toegedien.
Voordat die vyfde ronde kon begin, het die Filippyn aangedui dat hy nie wou voortgaan nie, en die skeidsregter, Deon Dwarte van Suid-Afrika, het die geveg beëindig wat die Namibiër se oorwinning met 'n tegniese uitklophou bevestig het.
Robles het daarna die toeskouers en aanhangers om verskoning gevra en verduidelik dat hy sy regterhand beseer het toe hy 'n hou teen Nghutenanye se skouer toegedien het.
Nghutenanye se professionele boksrekord staan nou op 15 oorwinnings (waarvan sewe met uitklophoue) en een naelskraapse nederlaag met punte, toe hy verlede jaar juis vir hierdie titel teen Mchanja Yohana van Tanzanië in laasgenoemde se tuisstad, Dar-es-Salaam, geboks het.
• In 'n voorgeveg Saterdagaand het Abed Shikongo van Namibië sy weltergewiggeveg teen Israel Kamwamba van Malawi met 'n uitklophou binne die eerste halfminuut van die eerste ronde beklink.
• In die stryd om die vakante WBO Afrika kapokgewigtitel het Jonathan Kasheeta van Namibië (nou 10-1; 4 uitklophoue) vir Ally Ngwando van Tanzanië (12-5-2; 3 uitklophoue) in die vyfde ronde met ‘n tegniese uitklophou verslaan.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article