Taai kompetisie by Rolbalweek afgesluit
Axel Krähenbühl en Diana Viljoen het Saterdagmiddag die gesogte mans- en vroue-enkelspeltitels van die Namibiese Rolbalvereniging se Nasionale Rolbalweek by die Eros-klub in Windhoek ingepalm.
Krähenbühl het sy 23-jarige klubmaat van Swakopmund, AJ Visser, in die finaal verslaan om hierdie enkelspeltitel vir die eerste keer te verower en dit by sy vorige loopbaantitels by die Namibiese Geslote Kampioenskap en die Namibiese Kampioen van Kampioene-enkelspel te voeg.
“Dit was 'n wonderlike finaal. Ek en AJ is klubmaats en ons ken mekaar se spel baie goed. In 'n stadium was die son 'n bietjie van 'n probleem en ek moes hulle vra om die spreiligte aan te skakel.”
Op pad na sy enkelspel-sukses het Krähenbühl eers vir Jakkie Nel en Julian Viljoen uitgeskakel om die halfeindstryd te haal, waar hy vir Piet du Plooy geklop het.
Die 23-jarige naaswenner, AJ Visser, sê hy speel al rolbal vandat hy elf jaar oud was en het destyds lief geraak vir die sport danksy 'n slim bemarkingskuif deur die Namibiese Rolbalvereniging (NBA).
“Ons het in die Walvisbaai-sakeliga gespeel en die premierafdeling gewen. As deel van die wenprys is ons met 'n jaarlange NBA-lidmaatskap beloon. Ons het gou besef wat 'n interessante en moeilike sport dit is – beide geestelik en fisiek.
“Hierdie jaar was die eerste keer dat ek verby die eerste rondte van die Nasionale Rolbalweek kon vorder (hy het Dave Gibbons en Gordon Damster geklop voordat hy die gewese nasionale kampioen Kat Steenkamp in die halfeindronde uitgeskakel het).
“In die finaal was dit 'n voorreg om teen Axel opgeweeg te word, wat baie goed gespeel het en verdien het om te wen. Hy was akkuraat met sy lyne en het die regte spoed met sy gooie gekies, en hy het ongelukkig net veel beter gespeel.”
In die mans se parespel-finaal het Krähenbühl en Julian Viljoen ook die goue medaljes voor Schalk van Wyk en Claude Thorburn verower.
Vrouekampioen
Diana Viljoen, ook van Swakopmund Rolbalklub, het Saterdag die vroue-enkelspeltitel gewen teen die ervare voormalige kampioen Marietjie van den Bergh, wat by die Tsumeb-klub geregistreer is en die lang afstand van haar huidige tuiste in die Noord-Kaap-provinsie van Suid-Afrika afgelê het.
Op die vooraand van die aankondiging van die Namibiese span vir die Statebondspele in Glasgow wat vir vandeesweek geskeduleer is, het Viljoen erken dat sy tydens haar enkelspel-finaal besonder gemotiveerd was.
Viljoen, wat ook die president van die Namibiese Rolbalvereniging is, het gesê: “Ek het die afgelope tyd baie enkelspel gespeel, want ek gaan Namibië ook in enkelspel by die Statebondspele verteenwoordig.
“Om hierdie titel te wen, was vir my belangrik en daarom is ek dankbaar dat ek dit bereik het.”
Viljoen sê die Nasionale Rolbalweek het fantasties verloop en die aantal jeugdige inskrywings was 'n bemoedigende teken.
“Ons het op pragtige bane by die drie klubs in Windhoek gespeel. Die totaal van 88 inskrywings was wonderlik om te sien, insluitend 'n paar hele gesinne van jonk tot oud.”
In die vroue se parespel-finaal was Michelle Crawford en Annelien Langenstrassen die wenners teen Anjuleen Viljoen en Leslie Vermeulen.
Die Nasionale Rolbalweek is geborg deur Walfish Electric, wat die rol by King Price oorgeneem het.
Jaco Pretorius, wenner van die beginnermans-afdeling, is as die manlike persoonlikheid van die week aangewys, terwyl Estie Paulsen die vrouepersoonlikheid van die week was.
Die pryse vir speler van die toernooi is aan Axel Krähenbühl en Danelle van Wyk oorhandig.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article