Talaya (18) dring deur na Afrika-kampioenskap

Atletiek
Die skoolmeisie van Auckland is nog nie deur een van die twee nasionale federasies vasgeknoop nie.
Andrew Poolman

Die paalspringer Talaya Vorster het by laas Saterdag se nasionale kampioenskap in haar tuisstad Auckland die Nieu-Seelandse onder 20-titel gewen.

Die 18-jarige Vorster se wenhoogte van 3.45 meter het haar vir die CAA senior Afrika-atletiekkampioenskap laat kwalifiseer wat van 12 tot 17 Mei in Ghana se hoofstad Accra aangebied word.

“Die coach is happy en dankbaar. Sy vorder goed, maar heelwat werk lê voor,” het haar vader en afrigter Johan Vorster gesê.

Talaya, die dogter van die tweemalige Olimpiese bergfietsryer Michelle Vorster van Namibië, beskik oor Namibiese burgerskap. Die verwagting is dat Talaya ook na Namibië sal reis vir deelname aan die komende Namibia Classic ’26 internasionale byeenkoms op 27-28 Maart by Windhoek Hoërskool se FNB Vegkopstadion.

Met haar nuut verworwe status as Nieu-Seeland se o.20-kampioen kan ‘n toutrekkery tussen die twee nasionaliteite algaande meer intens raak. Insluiting onder die vaandel van ‘n nasionale federasie sal volgens die bestaande regulasies beteken dat sy vir twee jaar sonder ‘n federasie moet bly indien die atleet haar status wil verander.

Soos sake staan, is dit nog nie bevestig dat sy vir die Namibiese span vir die kontinentale Afrika-kampioenskap in Ghana gekies is nie.

Johan voeg by: “Talaya kom nou van 'n besering af wat haar vir 12 maande op die kant laat sit het en haar byeenkoms laas naweek was basies die eerste sedert Maart verlede jaar – vandaar die geleidelike terugkeer en opbou na die Namibiese byeenkoms.”

Talaya word as een van die mees belowende jong paalspringers in Nieu-Seeland erken. Haar persoonlike beste in paalspring is 3.63 meter wat op 21 Desember 2024 in North Shore opgestel is.

Sy het reeds in verskeie nasionale byeenkomste bestendige vordering en mededingende gees getoon. Die grondslag vir haar tegniese vaardighede is danksy 'n vroeër loopbaan in gimnastiek gelê.

“Talaya sal haar skoolloopbaan aan die einde van 2025 voltooi, waarna sy op haar sport wil fokus en 'n stewige basis wil skep vir die oorgang vanaf junior na senior atletiekkompetisie.

“Met haar visier ingestel op die senior puntelys, gaan sy voort om met fokus en ambisie te oefen en mee te ding,” sê Johan.