Sterre van die toekoms laat Vegkop dreun

Skole-atletiek
Jong atlete van drie Windhoekse skole het mekaar goeie kompetisie gegee.
en Rozanne Swart

David van Schalkwyk en Rozanne Swart


Windhoek Hoërskool (WHS) het Saterdag sy tweede jaarlikse driehoekige atletiekbyeenkoms aangebied, met Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP) en Windhoek Gimnasium wat ook by die FNB Vegkop-stadion meegeding het.

Die byeenkoms is sedert verlede jaar aangepas van slegs atlete onder 15, o.17 en o.19 om vanjaar ook die ouderdomsgroepe o.14 en o.16 te akkommodeer. Die groter aantal deelnemende atlete het tot die sukses van die byeenkoms bygedra.

Die algehele trofeewenners vir die span met die meeste punte in baan- en veldatletiek was WHS met 'n totaal van 1452 punte, gevolg deur Windhoek Gimnasium met 1150 en in die derde plek WAP met 687 punte.

Vanjaar het WHS 'n bykomende trofee bygevoeg waarvoor die skole kon meeding, naamlik die Geestrofee aan die skool wat die beste gees deur die dag getoon het. Die beoordelaars se eerste wenner van die geestrofee was WHS met 443 punte, ná 'n naelbyt-kompetisie met Windhoek Gimnasium slegs nege punte agter met 434.

 

Windhoek Affies het met die individuele trofeë skoonskip gemaak:

Junior victrix ludorum, Laliq Adams (WAP), 2542 punte.

Junior victor ludorum Shaun Silver (WAP), 1966.

Senior victrix ludorum, Lisa le Roux (WAP), 2313.

Senior victor ludorum, Christo van Rooyen (WAP), 2149.

Hierbenewens is die trofee vir die gelukbringer van die dag ook aan WAP se Waffie toegeken, teen Gim se leeu en WHS se koedoe.

 

Streef groter

Die atletiekafrigter Henk Botha reken kompetisies soos hierdie speel ‘n belangrike rol in enige atleet se ontwikkeling.

“Sulke kompetisies is so belangrik. Indien ek ‘n bietjie kritiek mag lewer, is dit ongelukkig dat die kompetisie net vir drie skole gereël is. Dis nodig dat ons met meer skolebyeenkomste proefnemings maak. Daar behoort soos vyf byeenkomste op beskikbare naweke wees.

“Ons moet 'n struktuur opstel en kyk hoe ons inisiatiewe soos hierdie kan ondersteun,” het Botha gesê.

Hy sê driehoekige skole-atletiek bied 'n platform om 'n atleet se potensiaal te identifiseer en hulle voor te berei vir groter geleenthede soos die sonekompetisies wat as die kwalifiserende geleentheid vir die Namibiese Skolesportunie (NSSU) se nasionale kampioenskap dien.

Die ervare atletiekbeampte Leoni van Rensburg was ook opgewonde: “Ek het talentvolle atlete gesien wat ver kan kom as hulle behoorlike afrigting kry. Daar is beslis heelwat atlete met vooruitsigte, maar baie van hulle kry nie afrigting nie.”

Van Rensburg het gesê hierdie soort geleenthede leerders kan help om bande in die sport te bou. “Interaksie met sport is baie belangrik. Goeie sportmanskap is baie belangrik om verhoudings en herinneringe te bou. Dit bied ook 'n gesonde sosiale omgewing vir jongmense,” het Van Rensburg gesê.

 

Marike aan die herstel

Marike Weitz, indrukwekkende gewigstoter en diskusgooier van Windhoek Gimnasium, het gesê: “Ek het die kompetisie baie geniet. Daar is baie spangees tussen al die spanne.

“Ek was nog altyd ernstig oor my atletiek, maar vandag het ek opnuut besef dat ek nog meer tyd en moeite in my oefening moet bestee as ek my doelwitte wil bereik.”

Weitz is 'n bekroonde atleet wat steeds hard wil werk om meer te bereik.

“Nadat ek verlede jaar goud in gewigstoot en brons in diskusgooi by die Afrika onder 18-kampioenskap in Nigerië gewen het, is my doelwit vir vanjaar om te kwalifiseer vir die Onder-20 Wêreldatletiekkampioenskap wat in Augustus in Oregon in die VSA aangebied word.

“Ek moet steeds my afstande in beide diskus en gewigstoot verbeter om te kwalifiseer. Gebaseer op my persoonlike beste van verlede jaar, sou ek net 'n verbetering van 18 cm in gewigstoot nodig gehad het om te kwalifiseer. Ongelukkig het ek in November verlede jaar my hand beseer, en my afstande in gewigstoot is sedertdien omtrent 2 meter swakker. Ek werk hard om die krag in my hand te herwin.

“My diskusgooi lyk in hierdie stadium meer belowend in terme van die kwalifiserende afstand,” het Weitz bygevoeg.

 

Heloise Steyn, waarnemende skoolhoof van WHS, het opgemerk dat die geleentheid verlede jaar vir die eerste keer aangebied is in die strewe om vriendskapsbande en gesonde kompetisie tussen die drie skole te skep.

“Ons het 'n behoefte gesien vir ons leerders om meer atletiek te doen. Gewoonlik was dit net die interhoërs en dan die sonale. Hierdie geleentheid stel ons in staat om die leerders meer blootstelling te gee,” het sy bygevoeg.

Die geleentheid by Vegkop het geesdriftige interaksie en entoesiasme van die skare ontlok, met al drie skole se op-en-wakker dirigente wat gehelp het om hul skool se atlete te motiveer om op hul beste te presteer.

Hoewel verlede jaar se eerste driehoekige atletiekbyeenkoms weens reënbuie voortydig kortgeknip moes word, het vanjaar se geleentheid behoorlik aan die verwagtinge voldoen.