Pieter Rossouw afrigter vir dié Dubai-toerspan

Rugby
Andrew Poolman
Twee debutante het die Namibiese dertigtal gehaal wat gister aangekondig is vir die gedugte taak om ‘n plek by die 2027 Wêreldbeker te gaan oopspeel.

Die Namibië Rugby-unie se toergroep bevat 17 voorspelers en 13 agterspelers vir die deurslaggewende Finale Kwalifiserende Toernooi in Dubai.

Die kapteinskap is gister nog nie bevestig nie, vir die toerspan wat toetswedstryde teen België (8 November), Samoa (13 November) en Brasilië (18 November) te bowe sal moet kom.

Net een van dié vier nasies sal deurdring as die laaste van die 24 kwalifiseerders na die vergrote 2027 Wêreldbekertoernooi in Australië.

Die terugkeer van die senter Johan Deysel (34) en vleuel JC Greyling (34) is ‘n waardevolle toevoeging tot die kern van ervaring in die spelersgroep.

Beide het in die laaste drie Wêreldbekers gespeel, waarvan Deysel die kaptein vir die 2019 Japan- en 2023 Frankryk-toernooie was. Greyling se vernuf met afronding is welbekend en sy nasionale rekord vir meeste toetsdrieë spreek vanself.

Met die onlangse verliese van senter Le Roux Malan (wangbeenbesering vir sy provinsiale span in Nieu-Seeland) en vleuel Gerswin Mouton (kniebesering vir Grenoble in Frankryk) behoort die afrigterspan deeglik te weet wat Deysel en Greyling in hierdie posisies kan bied.

Benewens die FNB Kudus-vleuel Aston Mukwiilongo en losvoorspeler Riaan Grové wat beide in Julie vir die oorwinning teen die Verenigde Arabiese Emirate na Kampala ingevlieg is en hul toetsdebuut gemaak het, is die twee jong stutte Joshua Bester en Gianluca Savoldelli nou die enigste twee gekose toerlede wat nie nog nie toetsrugby geproe het nie.

Bester en Savoldelli was vanjaar die twee stutte vir die Namibiese span wat die Rugby Afrika O.20 Barthés-bekerfinaal in Harare gewen het.

Baie vertroue word in dié twee jongmanne asook Otja Auala gewys, met die toetsveteraan Jason Benade wat weggelaat is terwyl Sydney Halupe ook nie voortbou op sy eerste senior nasionale toer na Uganda laas Julie nie.

Die NRU se direkteur van rugby, Jacques Burger, sê: “Die spel het verander en stutte moet deesdae in die algemene spel hul kant kan bring, afgesien van net skrumwerk. Namibië het heelwat talentvolle stutte, maar in sommige gevalle lei die werkverpligtinge van amateurspelers daartoe dat hulle nie genoegsaam gekondisioneer is vir die buitengewone vereistes van toetsrugby nie.

“Joshua en Gianluca is beide in Suid-Afrika in ‘n professionele rugby-opset en ons voel die tyd is reg om hulle hierdie geleentheid te bied om by die veterane soos Aranos Coetzee te leer.”

Benewens Malan en Mouton op die lys beseerdes, kon Tiaan Swanepoel (Cheetahs-losskakel; heup) en slot Oliver Kurz (skouer) ook nie oorweeg word nie, terwyl Richard Hardwick (flank van Grenoble) tans ‘n skorsing vir ‘n boorvat moet uitdien.



NUWE HOOFAFRIGTER

Die voormalige Springbokvleuel Pieter Rossouw is gister in die NRU-verklaring as die hoofafrigter gelys, nadat die direkteur van rugby, Jacques Burger, sedert einde Junie in die rol waargeneem het ná Chrysander Botha se bedanking weens werkverpligtinge aan die einde van Junie.

Hieroor sê Burger dat sy destydse waarnemende rol altyd bloot ‘n gedwonge noodmaatreël sou wees vanweë die onverwagse verwikkeling kort voor die Uganda-toer, en om nie die eenheid in die groep te ontwrig nie.

“Pieter Rossouw en Pine Pienaar (verdedigingskonsultant) wat ook intussen aangesluit het, is beide sterk in die opstel van strukture en met hul vorige betrokkenheid is ons oortuig dat hulle by die Namibiese mense en span inpas.

“Pieter sal ons aanvallende spel help versterk; hy bring ‘n positiewe vertoningslys met Namibië (2015 Wêreldbeker) asook ‘n rustigheid en duidelikheid.”



SLYP TEEN DIE BOLAND

Burger sê afgesien van Torsten van Jaarsveld, Divan Rossouw en die twee Vrystaat-Cheetahs wat ‘n blaaskans verdien (Louis van der Westhuizen en Aranos Coetzee) sal die volledige toergroep reis om komende Saterdag ‘n opwarmwedstryd teen die Boland Kavaliers te gaan speel.

Die senter Alcino Izaacs sal ook weens sy troue komende Saterdag vrystelling hê, terwyl die haker Edward Drotsky (FNB Wanderers) as ekstra dekking saam na die Wes-Kaap sal reis.



DIE TOERGROEP

Stutte: Otja Auala (Unam / Rhino rugby-akademie in Kaapstad), Joshua Bester (Namibië o.20 in 2025; Villagers in Kaapstad), Aranos Coetzee (Vrystaat-Cheetahs), Gianluca Savoldelli (Namibië o.20 in 2025; UXI-rugby-akademie in die Kaap), Haitembu Shikufa (Luiperds).

Hakers: Armand Combrink (Maties), Louis van der Westhuizen (Vrystaat-Cheetahs), Torsten van Jaarsveld (Bayonne, Frankryk).

Slotte: Tiaan de Klerk (Pumas), Adriaan Ludick (CSM Baia Mare, Roemenië), Johan Retief (Orkan Sochaczew, Pole), Johan Luttig (FNB Grootfontein).

Losvoorspelers: Adriaan Booysen (US Marmandaise, Frankryk), Wian Conradie (New England Free Jacks, VSA), Riaan Grové (Sarlat-la-Canéda, Frankryk), Prince !Gaoseb en Max Katjijeko (beide CSA Steaua Bucuresti, Roemenië).

Skrumskakels: AJ Kearns (FNB Unam; Budowlani Lublin in Pole), Helarius Kisting (CS Dinamo, Roemenië), Jacques Theron (FNB Wanderers).

Losskakels: Cliven Loubser (Anthem Rugby, VSA), Andre van der Berg (Limoges, Frankryk).

Senters: Danco Burger, Johan Deysel (beide FNB Wanderers), Alcino Isaacs (FNB Unam), Jay-Cee Nel (Pumas; ook vleuel of heelagter).

Vleuels en heelagters: Jürgen Meyer (FNB Wanderers), Aston Mukwiilongo (FNB Kudus), Divan Rossouw (Seattle Seawolves, VSA), Danie van der Merwe (FNB Wanderers; ook skrumskakel).



BESTUURSPAN

Die bestuurspan na Dubai is Jacques Burger (direkteur van rugby), Tersia Venter (spanbestuurder), Pieter Rossouw (hoofafrigter), Jaco Engels (skrumafrigter), Darryl de la Harpe (vaardigheidskonsultant), Rohan Kitshoff (voorspelerafrigter), David Philander (agterlynafrigter), Devon O’Brien (video-ontleder), dr. Wilfred Bezuidenhoudt (spandokter), Tanya Green (hooffisioterapeut), Sergio de la Harpe (hoof van krag en kondisionering) en Zandréa Strauss (media en kommunikasie).