WHS Old Boys reik uit na ‘n San spelerspoel
Krieket
                                    
            
                Die N/a’an ku sê Stigting – ‘n voorstander van ervarings wat goed vir die gesondheid van die verstand is – is opgewonde oor die vooruitsigte van sy projek om die moontlikhede te toets van die gesegde dat krieket ‘n liefdesverhouding met die siel is.Sedert 2003 is die N/a’an ku sê Stigting regstreeks betrokke by die opheffing en ondersteuning van Namibië se inheemse San gemeenskappe. Stappe is gedoen soos die oprigting van ‘n gesondheidsentrum in die Omahekestreek en vier skole in verskillende uithoeke van die land.
Maar die Stigting streef ook om alle aspekte te inkorporeer wat ‘n lewe verryk en talent ‘n kans gee om te ontwikkel.
Sportaktiwiteite is ‘n bewese manier om selfvertroue te bevorder, gesonde kompetisie te stimuleer en die jonger generasie te leer van die voordele van spanwerk en eenheid.
Blootstelling aan die fyner kunsies van krieket is die ideale platform om spangees te bevorder en kombineer ‘n bykans tydlose sport met die wêreld se oudste kultuur – dié van die inheemse San.
Krieket, ‘n sport met sy wortels in Engeland in die laat 16de eeu, het sedertdien ontwikkel tot die wêreld se tweede mees gewilde toeskouersport.
Anders as met sokker, die heel gewildste toeskouersport ter wêreld, ondervind krieket in Namibië nie van nature dieselfde breë toeganklikheid as sokker nie. Die tipiese uitbeelding van Afrika se stowwerige velde waar kinders van nedersettings met die sonsondergang in die agtergrond ‘n sokkerbal skop, het oënskynlik net tot dié sport beperk gebly.
Die San – histories onderdruk en gemarginaliseer – se blootstelling aan krieket oor die jare was oor die jare uiters beperk, indien ooit.
Dis hier waar Windhoek Hoërskool Old Boys-krieketklub en die ruimhartigheid van sy borg Afri-Track Group (ATG) in die prentjie kom.
ATG, verbind tot die groei en volhoubaarheid van die gemeenskap, het WHS Old Boys-krieketklub as sy amptelike vennoot gekies om krieket aan soveel as moontlik van die land se bevolkingsgroepe bloot te stel – insluitend die San.
WHS Old Boys se derdespan, ook bekend en ingespan as die ontwikkelingspan, gee die afgelope tyd speelkans aan leerders van die skole verbonde aan die N/a’an ku sê Stigting.
Skoolkinders van alle ouderdomsgroepe, spesifiek San kinders, word genooi om by die ontwikkelingspan te kom krieket speel, om hul vaardighede te slyp en talent na vore te bring.
Leierskapvaardighede kom ook in krieket vanaf skolevlak na vore.
Die ontmoeting en samesmelting van twee mooi wêrelde – die wêreld van krieket en die wêreld van Namibië se San mense – is vir die N/a’an ku sê Stigting ‘n passie.
Kinders word hier genooi om te droom; in die woorde van Pakistan se krieketlegende Imran Khan: “Maak opofferings vir jou droom, maar moet nooit jou droom opoffer nie.”
Old Boys-klubnuus
By WHS Old Boys se prysuitdeling aan die einde van die vorige seisoen is die trofeë soos volg toegeken:
Algehele beste presteerder van die jaar op plaaslike en internasionale vlak: Gerhard Erasmus.
Eerstespan beste kolwer: JP Kotzé.
Eerstespan beste bouler: Faf du Plessis.
Eerstespan beste veelsydige speler: Shaun Fouche.
Tweedespan beste kolwer en beste veelsydige speler: Jandre de Jager.
Tweedespan beste bouler: SJ Etsebeth.
Vintage-span beste kolwer: Braam van Niekerk.
Vintage-span beste bouler: Floris Marx.
Vintage-span beste veelsydige speler: Corne Tripodi.
Voorsitterstoekenning: JW Prinsloo.
Beste vordering: Tapiwa Kaisi.
• By die algemene jaarvergadering is Leon Fouché as die nuwe klubvoorsitter aangewys, terwyl Marlice van Vuuren ook as ‘n lid van die uitvoerende bestuurspan bygevoeg is



                
                
                
                
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article