Eagles se pad sal eerste keer met Wes-Indië kruis
Krieket
‘n Klompie ekstra dae in Indië sal die Namibiese nasionale krieketgroep help om by omstandighede op die subkontinent aan te pas in die opbou na die komende ICC T20 Wêreldbekertoernooi.By verlede week se loting vir hul vierde opeenvolgende verskyning by die T20 Wêreldbeker is die FNB Eagles in dieselfde groep as die gasheerland en verdedigende titelhouer Indië geplaas.
Pakistan, die VSA en Nederland sal die ander drie teenstanders in Groep A wees.
Die nasionale afrigter, Craig Williams, het in sy reaksie gesê die Namibiërs is baie tevrede met die loting en waar hulle gebaseer sal wees.
“Die groot ding is dat ons nou spesifiek kan begin voorberei op die teenstanders en die plaaslike toestande. Ons gaan vroeër Indië toe om voor te berei en sal ook in Kaapstad ‘n oefenkamp van tien dae gaan hou. Ons voel alles is in plek en ons sien uit daarna.”
Krieket Namibië se uitvoerende hoof Johan Müller het ook meer lig op die planne gewerp – insluitend dat Wes-Indië een van die Eagles se opponente in ‘n amptelike opwarmwedstryd sal wees. Die twee lande het nog in geen formaat tevore vir ‘n senior internasionale krieketwedstryd ontmoet nie.
“Daar is twee kante van die loting. Uit 'n krieketperspektief is ons in 'n baie sterk groep geplaas. As jy kyk wat die VSA in vorige Wêreldbekers gedoen het deur onder andere vir Pakistan te klop ... Pakistan en Indië is natuurlik besonder sterk T20-spanne.
“En dan is Nederland een van die topspanne onder die ICC-assosiaatlande. So dis 'n besonder sterk groep. Ek dink sommige van die ander groepe lyk dalk 'n bietjie makliker. Vanuit 'n krieketperspektief het ons 'n redelike uitdaging,” sê .
“Uit 'n kommersiële perspektief vir die land gesien, is dit altyd goed om saam met die Indië-span gegroepeer te wees, en selfs meer so wanneer jy in Indië speel.
“So die hoeveelheid blootstelling wat Namibië sal kry, die hoeveelheid belangstelling wat dit vir Namibië sal opwek om in dieselfde groep as Indië te wees, en dan natuurlik om ‘n WB-wedstryd teen Indië te speel, sal besondere blootstelling vir Namibië wees, en natuurlik sal dit waarde vir die land byvoeg.
“Ja, die span gaan Indië toe vir 'n ekstra voorbereidingstydperk, dit lyk of hulle op 24 Januarie daar sal aankom en dan sewe dae van voorbereiding het, voordat hulle met die amptelike ICC-voorbereiding begin.
“Dit lyk asof die span vir die sewe dae in Benguluru sal wees vir die twee amptelike ICC-opwarmwedstryde, insluitend een teen die Wes-Indiese Eilande. Dit gee vir ons altesaam so vier of vyf T20-wedstryde, voordat ons amptelik met die Wêreldbeker begin.
“So, uit die perspektief van voorbereiding, doen ons alles in ons vermoë om seker te maak dat ons ons span geakklimatiseer is in die Indiese toestande, en dat ons selfs in die opwarmwedstryde met wenne kan terugkeer.
NAMIBIË se Wêreldbeker-wedstrydbepalings (plaaslike tye)
10 Februarie (11:00) teen Nederland in Arun Jaitley-stadion (Nieu-Delhi)
12 Februarie (19:00) teen Indië in Arun Jaitley-stadion (Nieu-Delhi)
15 Februarie (15:00) teen VSA in MA Chidambaram-stadion (Chennai)
18 Februarie (15:00) teen Pakistan by Sinhalese Sports Club in Colombo, Sri Lanka



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article